Hierdie proefskrif ondersoek beleidmaking in mineraal-ryk ontwikkelende lande, met die klem op beleid wat die waarde toevoeging tot minerale produkte voor uitvoer bevorder (ook bekend as veredelingsbeleid). Eerstens word ondersoek hoe minerale waardekettings gekonseptualiseer kan word om die debat rondom veredelingsbeleid te raam en ’n holistiese kontekstualisering van sodanige beleid moontlik te maak. Tweedens, word twee nuwe/aangepaste analitiese raamwerke voorgelê wat die evaluering van die potensiële strategiese waarde van verskillende stroomafverwerkingsaktiwiteite ondersteun. Die eerste raamwerk gebruik korporatiewe volhoubaarheids-openbaarmakings om die potensiële driehoek-impak van ’n fokale aktiwiteit binne ’n bepaalde jurisdiksie te assesseer. Hierdie raamwerk word toegepas op die geval van platinum in Suid-Afrika ten einde te illustreer hoe dit aangewend kan word. Die tweede raamwerk bied ’n inset-uitsetlens vir die aanwending van die produkruimteanalise metode wat dit moontlik maak om te bepaal hoe moeilik dit waarskynlik sal wees om ’n bedryf te teiken en wat die potensiële vermoë ontwikkeling en ekonomiese groei-effekte van hierdie bedryf kan wees. Hierdie raamwerk word toegepas op staal in Suid-Afrika. Die gevallestudie word gebruik om te besin oor die optimaliteit van die volg van ’n stroomafverbindingsgebaseerde, oftewel veredelingsgebaseerde, industriële beleidslogika. Daar word bevind dat ’n sogenaamde ‘padda-sprong’-benadering tot beleidsontwikkeling meer optimaal kan wees. Ten slotte word daar in hierdie proefskrif ’n raamwerk voorgestel vir die evaluering van die faktore wat die ligging van ’n bepaalde aktiwiteit beïnvloed, om sodoende te bepaal hoe so ’n aktiwiteit geteiken kan word. Dit ondersteun die bereiking van ’n eerste benadering van die koste en haalbaarheid van die nodige ingrypings om hierdie aktiwiteit in ’n mineraal-ryk ontwikkelende land te ontwikkel. Hierdie proefskrif dra dus by tot die konsolidering en uitbreiding van die akademiese literatuur wat betrekking het op verbeterde nywerheidsbeleidmaking in minerale waardekettings van mineraal-ryk ontwikkelende lande. Verder is dit daarop gemik om praktiese instrumente vir beleidmakers te verskaf ten einde verbeterde ontwikkelingsuitkomste te ondersteun. Daar word ook beoog dat die gereedskap en benaderings wat in hierdie proefskrif ontwikkel word, ook buite die mineraalverwante bedrywe, wat die fokus van hierdie studie was, aangewend kan word.